Sanetwerksklas
Lebone Sanet, is 'n uitreikaksie vir huishulpe en werklose vroue, op Donderdae om 14.00 in die kerksaal, gedurende die skoolkwartaal. Daar word naald-werkklasse en lees en skryf-klasse aangebied.
Indien u 'n huishulp benodig, skakel gerus vir Hermien by 012 6643861 / 0823670089.
Kom kyk gerus wat ons doen en waar u kan inskakel! U is meer as Welkom om te kom inloer, enige skenkings wat naaldwerk verwant is en maklike leesboeke is baie welkom.
LGDP is 41 jaar gelede begin deur Sanet Borchardt en Hermien König omdat ’n behoefte geïdentifiseer is aan ’n opleidingsfasiliteit vir huiswerkers. Huiswerkers is een van die mees verwaarloosde en mins opgeleide groepe in ons samelewing. Omdat hulle nie spesifieke opleiding het nie, kan hulle ook nie groot salarisse verdien nie. Sommige van hierdie vroue is ook ‘n enkelouer wat alleen die verantwoordelikheid van hul kinders moet dra. Die hoof dryfkrag vir die ontstaan van die projek was om die liefde van Jesus met hierdie vroue te deel, hul lewens te verryk en hul in staat te stel om hulle inkomste te verhoog. Na 8 jaar het Sanet egter verhuis en sedertdien organiseer ek met die hulp van ‘n aantal onderwyseresse die program.
HUIDIGE FUNKSIONERING
Vandag funksioneer LGDP steeds sterk en bestaan dit uit twee programme, nl.
1. Vaardigheids- en Entrepreneursontwikkeling en Lees- en skryfklasse vir huiswerkers (m.a.w. persone wat wel ’n inkomste het).
2. Hulpverleningsprogram aan werklose, daklose en honger vroue. Die program word weekliks aangebied by die NG Gemeente Lyttelton en strek jaar van einde Januarie tot begin van November.
Beide hierdie programme word ondersteun deur twee maatskaplike werkers en ‘n lekeprediker wat die godsdiensbegeleiding doen,David Nkobane.
Vaardigheids-en Entrepeneurskursusse
Die program 1 word in kursusse aangebied van beginnersnaaldwerk tot gevorderde naaldwerk en omkapmasjienwerk. (Vantevore is ook handwerk, brei en hekel asook breimasjienwerk kursusse aangebied. Ongelukkig moes dit gestaak word, omdat ons nie meer onderwyseresse kon kry vir die handwerk nie, en met die afsterwe van Sattie Stolse wat die breimasjiene hanteer het.)
Onderwyseresse
Die klasse word hanteer deur 8 wit en 4 swart onderwyseresse en een adminstratiewe beampte. ‘n Lekepredikant, David Nkobane, behartig die geestelike deel en help ook waar hy nodig is, bv. met die registrasie van die werkloses.
Soms kry ons ook tydelike hulp, wat hoog waardeer word.
Hulpverleningsprogram
Hierdie program by punt 2 is hulp aan werklose vroue. Die volgende dienste word aangebied:
Registrasie van werkloses
Moontlike indiensplasing
Kospakkies
Vaardigheidsontwikkeling bv. lapverfwerk.
Onderrig in spesifieke sake, bv noodhulp, vigs, veiligheid, (ideale –belofte-Tshwane Metro Polisie 1x per maand)
AD HOC KURSUSSE
Bo en behalwe hierdie twee programme word ook Ad Hoc-kursusse aangebied wanneer daar behoefte is. By hierdie kursusse word ook werkloses betrek indien moontlik.
Eerste hulp; Kook en bak; Tuinmaak op klein skaal; Lapverf ens.
HOOGTEPUNTE
• Die geldelike skenkings stel ons in staat om kos aan te koop vir vroue in nood.
• Die afsluitingsfunksie van die Hulpverleningsprogram word in November gehou. Aan al die werloses wat teenwoordig is, word ’n maaltyd gegee en elkeen ontvang ’n Kerspakkie met verskillende kossoorte in. Hierdie maaltyd en kospakkie is aangekoop uit donasies van veral Kerk sonder Mure. Nou ontvang ons nie meer enige hulp van hulle nie. Ander donasies het bygekom. Dit was ’n besondere geleentheid en die innige dankbaarheid en gejuig van die vroue het ons diep geraak en geïnspireer om voort te gaan met die werk en ondersteuning van hierdie dikwels desperate vroue.
Jaareindfunksie
Dit is ‘n hoogtepunt van ons Vaardigheidsprogram vir huiswerkers. ‘n Modeparade en uitstalling van die werk wat die vroue deur die jaar gemaak het, word vertoon. Pryse word uitgedeel en elkeen ontvang ‘n klein geskenkie. Gaste word uitgenooi. Verversings word bedien. Vir baie jare skenk Pick n Pay ‘n groot verjaarsdagkoek.
Ander inisiatiewe
• Twee van die onderwyseresse (Hedwig van der Westhuisen en Louise Harley) het in 2010 selfs Donderdag-oggende van 10:00 tot 14:00 ekstra vaardigheidsopleiding gegee om die erge nood aan te spreek. Aankope is bv. gedoen om o.a. vetkoeke en viskoekies te leer bak. Elke vrou het dan ‘n pakkie met bestanddele gekry om tuis te bak , te gebruik of te verkoop vir inkomste.Ongelukkig kon hierdie klasse nie voortgaan nie, wat buite ons beheer was.
• Die Tshwane Metropolisie het in 2010 beplan om een keer per maand ’n praatjie oor veiligheid te lewer. Die eeste praatjie is reeds op 19 Februarie 2010 gelewer. Daarna, af en toe.
• Naaimasjiene word af en toe ontvang, van donateurs vir naaldwerkprojekte.
Toere en Daguitstappies
Vroeer indien daar genoeg fondse was en veral donasies uit VSA en Kanada ontvang is, het ons die vrouens 5 x op opvoedkundige toere na Kwazulu-Natal vir ‘n week geneem. Ons het tuisgegaan by ‘n kampterrein en daagliks verskillende plekke besoek bv. Seaworld, krokodilplaas ens. Die hoogtepunt was elke keer ‘n ete in ‘n restaurant of hotel. Hul kon net aansit en bedien word, wat vir huiswerkers ‘n buitengewone ervaring is.
Daguitstappies
Vroeer het ons probeer om hul jaarliks op so ‘n uitstappie te neem, bv na die Nasionale Dieretuin, Jhb se Asiatiese mark ens. Weens die ekonomiese situasie vind uitstappies en toere nie meer plaas nie. Deesdae probeer ons net iets spesiaals doen. Verlede jaar het ons ‘n donasie ontvang en hul na die Centurion Lake Hotel vir ‘n ete geneem.
Behoeftes
1. Daar word dringend onderwyseresse by die naaldwerk benodig, hetsy hulle elke week of net af en toe beskikbaar is.
2. Persone om periodiek vaardigheidsklasse aan te bied, bv groenteverbouing, basiese herwinning en omskepping van afval in bruikbare artikels.
3. Kliniek. Daar bestaan ‘n behoefte aan ‘n kliniek, selfs net een keer per maand. Vroeër was daar ‘n kliniek wat deur ‘n verpleegkundige en selfs soms deur ‘n mediese dokter behartig is. Die meeste van hierdie vroue kan nie maklik by ‘n kliniek uitkom nie en dit neem lang ure.
4. Fondse. Aansoeke vir donasies/fondse word gereeld gedoen, ongelukkig dikwels sonder sukses.
5. Bekendmaking van dienste aan werkgewers, naamlik indiensneming van werkloses, asook bywoning van programme deur huiswerkers.
BEPLANNING
- Vervaldatumkos word Donderdae van Pick en Pay Mall gekry. Dit is ’n wonderlike bydrae tot die hulp aan die Hulpverleningsprogram en ons sal voortgaan om dit op Donderdag-oggende/middae te kry. Tog, elke nou en dan is daar egter waarskuwings dat die kos nie meer beskikbaar gestel gaan word nie ?
- Vaardigheidsopleiding Donderdag-oggende .
- Vaardigheid- en Entrepreneurskursusse sal voortgaan.
- Registrasie van werklose vroue sal voortgaan.
Die toewyding en moeite wat vir al hierdie 2 groepe vroue gedoen word, is oorweldigend !
PERSOONLIKE EN GEESTELIKE WELSTAND
• Genade, genade, genade. Die Here is goed en aan Hom al die eer. HALLELUJA.
• David Nkobane hanteer die geestelike deel van die projek. Hy deel met hulle die evangelie en gee ook opleiding. Die meelewing van die vroue is treffend.
• Persoonlike nood word deur die onderwyseresse aangespreek wat almal toegewyde Christene is en ongelooflike en verstommende toewyding aan die werk het. Ek kan net juig om saam met so ’n span te werk .Vir my is dit ’n droomspan, en ek beleef dit in hulle.
GEBEDSVERSOEKE
• Dat Die Here verheerlik sal word en sy koninkryk sal uitbrei.
• Dat die programme werklik ’n verskil in die lewens van hierdie vroue sal maak.
• Dat ons meer vrywillgers sal kry om te help sodat hierdie projek meer effektief sal wees.
Die Kontak persoon vir hierdie bediening is Mev Marietta le Roux Tel 076 134 8178